Be Notified of New Posts via Smoke Signals or Something

Saturday, January 28, 2023

Dankie Jissis God, rassisme is hier om te bly



 
Vanoggend het 'n 13-jarige Palestynse kind in 'n geplaveide straat in Jerusalem gestap, 'n wapen uitgehaal, en 'n Israeliese pa en seun geskiet, net omdat hulle Joods is. Nie per ongeluk, maar met opset het hy eers na die een man gemik en geskiet, toe na die ander een gemik en weer die sneller getrek. Hy is daarna deur 'n ander burgerlike Jood doodgeskiet, wat sekerlik wonder of dit ooit reg is om 'n kind te skiet. Nie asof hy 'n keuse gehad het nie, maar nogtans.

 Daardie dooie kind is nou 'n held onder sy klasmaats en die helfte van die bevolking, en 'n klein werfetter vir die ander helfte van die zombie mense van die streek. Net as iemand dalk gewonder het of die geloof in iets dalk skade veroorsaak en haat en verdeling aanblaas. 

Die afgelope week het geweld tussen Moslems en Christene weer in volle swang in Israel losgebars. Gister het die Israeliese weermag in die besette Wesbank 7 mense doodgeskiet, waaronder 'n onskuldige vrou van 60 jaar oud. I bet she didn't see that one coming. 

Slegs hierdie eerste maand van 2023 is reeds meer as 220 Palestyne deur Joodse polisie en soldate doodgeskiet in minstens 120 voorvalle. Hoewel van die Palestyne onskuldig gesterf het, was die meerderheid terroriste en is daarom deur die Israelis 'geneutraliseer'. Ja, mens moet eers vrek wees voor jy neutraal kan wees, smaak dit my. 

Let op die negatiewe term terroris wat ek gebruik, terwyl die ander kant die positiewe term vryheidsvegter sou gebruik het. Hierdie kort artikel handel gedeeltelik oor die massiewe impak van sulke woordgebruik. 

My oorwoë opinie oor die voortdurende konflik reg deur die Midde-Ooste en ander lande: Dit sal nooit in der ewigheid ophou nie, want dit kan nie. Net so kan rassisme, calvinisme, klassisme, feminisme, chauvinisme, nasionalisme, patriotisme, kommunisme, kapitalisme, en ander isme's nooit uitgewis word nie. Ek stel dit as feit, en hier is hoekom.

Die vooroordele en oortuigings van gesagsfigure sal altyd onbewustelik deursypel na kinders toe, en wanneer hulle volwassenes is, weer na hul broeiseltjies toe. 'n Geskiedenisonderwyser sal byvoorbeeld gebalanseerd en kamma-neutraal 'n oorlog van 500 jaar terug bespreek, maar met slegs 'n vinnige gesigsuitdrukking of liggaamstaal sy voorkeur vir of teen 'n spesifieke kant van die oorlog toon. Onbewustelik kry die studente in sy klas die boodskap, veral kinders wat baie van die onderwyser hou en na hom opsien, watter kant hulle moet ondersteun. 

Dieselfde geld vir geloof- en ander oortuigings ook. 'n Onderwyser wat verskillende gelowe in 'n klas moet bespreek, kan absoluut beslis dit nie neutraal en objektief en krities doen nie, wanneer so 'n onderwyser deur enige spesifieke geloof besmet is nie. Selfs 'n ateïstiese onderwyser kan ook nie, want sy veragting vir godsnot en die skade wat dit psigologies en fisies aan mense oor die eeue aangerig het sal deurskemer, selfs deur onwetend die woord terroris pleks van vryheidsvegter te gebruik. 

Woorde het elk 'n gevoelswaarde, met min mense wat daarop let voordat hulle kwaak. Uiteraard sal ateïstiese onderwysers wel meer objektief elke geloof in snertfabels kan analiseer en uitlê as geloofsgefokte (!) onderwysers. 




Dis menslike natuur om kant te kies, en bykans onmoontlik om neutraal te bly oor enigiets. Dis 'n selfbeskermingsmeganisme in die mens se DNS om te identifiseer met iets, en daardie iets te beskerm deur enigiets wat dit mag bedreig of 'n invloed tot verandering daarop mag hê, aan te val. Dis waarom mense wat bang is vir verandering, 'behoudendes' genoem word, die goeie outydse Afrikaans vir die anglisisme 'konserwatiewes.' 

Behoudendes is bykans sonder uitsondering gelowig, bedoelende dat hulle uitgediende snertsprokies wat lankal nie meer met die realiteite van die lewe versoenbaar is nie, onderskryf en glo. Dit veroorsaak konfokulasie in hul plat koppe, wat tot swak denkprosesse en swak besluite en dan konflik lei. 

Mense wil besluite neem, en daarom sal hulle antwoorde soek of sommer net fabriseer vir hulself (baie algemeen onder gelowiges), sodat hulle oordele kan vel en kant kan kies. Dis 'n deel van 'n mens se identiteit. 



Veral wanneer 'n persoon gelowig is, is daar dikwels 'n gebrek aan kennis oor 'n spesifieke onderwerp, en dan fabriseer die persoon antwoorde wat met reeds vasgelegde oortuigings ooreenstem. En soos ons weet, is die aarde plat omdat die persoon wat dit glo, dit wíl glo, en 'n boek van fiksie as rugsteun vir bewyse aanbied.

 Geen werklike, bewese feite vanaf wetenskaplikes gaan daardie oortuigings omkeer wanneer die slagoffer reeds geruime tyd iets glo en sy ander foutiewe oortuigings dit ondersteun nie. 

Dis waarom, solank as wat daar verskillende rasse en klasse is, geen van die twee isme's (rassisme / klassisme) ooit uitgewis sal kan word nie. Dieselfde geld vir seksuele en politieke voor-en afkeure, en waarom rykes neersien op armes en armes die rykes haat. Sodra iets anders is as mens self of waarmee mens identifiseer, word die ander party 'n 'hulle', wat dikwels met suspisie bejeën word. 

As ons 'n wêreld vol gelukkige mense wil hê, in 'n veilige, voorspoedige, volhoubare omgewing, sal kinders spesifiek geleer moet word hoe om met beoordeling en veroordeling te handel, om so krities, analities, en objektief moontlik te kan bly. Oftewel, om ateïsties te dink. Die enigste manier hoe 'n mens oorloë, konflik, en agteruitgang kan vermy, is deur jou oortuigings en vooroordele slegs op bewese feite te bou, en bereid te wees om hulle aan te pas wanneer nuwe bewese feite aan die lig kom. 





No comments:

Post a Comment


Get Paid to Hang Out on Social Media, Travel the World!