Be Notified of New Posts via Smoke Signals or Something

Tuesday, November 29, 2022

Wat steek regtig in media aanvalle op diamantgottamiet Louis Liebenberg?




Na aanleiding van 'n plasing in die 'haatgroepie' Not a VDM or HL Fan Flub (ja, gespel flub, nie club) op Facebook, deur Pieter Duminy oor wat 'n SA koerant (Rapport?) te sê gehad het oor die berugte diamanthandelaar Louis Liebenberg wat glo nie die regte diamanthandelpermitte het nie, het ek die onderstaande as kommentaar geplaas. Ek plaas wat ek daar as kommentaar - en daarna as hele plasing op die groep gedoen het - op hierdie blog weer, en pas dit ietwat aan vir helderheid, net as iets om oor te dink. Duminy se plasing, ingeslote die kopiëring van die koerantberig wat hy aanhaal, plaas ek onder my opinie.

"
Liebenberg mag 'n skurk wees, maar as duiwelsadvokaat moet ek op die kant wys waaraan baie van sy Jan Alleman kritici dalk nie die nodige oorweging skenk nie.

Kyk na die koerantartikel met 'n oop kop en baie krities. (Almal weet ek is nie 'n LL ondersteuner nie, laat ek daarmee afskop.)

1. Dié sogenaamde kenner in daardie koerantberig wat glo al 40 jaar in die diamantbedryf is, het nog nooit van Liebenberg gehoor tot eers onlangs nie? Dan is hy geensins so 'n deskundige soos hy homself uitgee nie, dalk beswaarlik meer as 'n bestaansmyner homself. Rapport behoort hom by name te noem sodat sy CV se kredietwaardigheid nagegaan kan word. Liebenberg is al 20 jaar met diamante deurmekaar, vanaf Wealth4U wat hy laat bankrot gaan het. Dus, enigiemand wat iets weet van die diamantbedryf sal van Liebenberg weet. Waar krap die betrokke koerant sy 'deskundiges' uit, en hoekom hulle anoniem aanhaal?

2. Winste van 200% - wat die kamma-kenner as te goed om waar te wees beskryf - is beslis haalbaar, selfs veel meer. Hoe weet ek dit? Kyk wat word 'n myner vir 'n rou steentjie betaal, en kyk waarvoor word daardie selfde rou steentjie verkoop teen die tyd wat dit klaar geslyp is en in 'n juweliersware winkel te koop aangebied word. Mens praat van 'n rou steen wat vir so min as 50 euro's aangekoop, en teen 400 euros verkoop word aan die eindgebruiker. Dit, terloops, is 800% bruto wins. Hoe weet ons watter ooreenkomste het Liebenberg as deel van sy maatskappye se handelsgeheime in plek met sy internasionale aankopers? Deur verskeie middelmanne uit te skakel, soos om aan eindgebruiker-winkels met slyp lisensies te verkoop, kan 200+ persent maklik behaal word. En nêrens sê Liebenberg dis netto wins, daardie 200%, nie.

3. Die skielike vendetta van spesifieke Suid-Afrikaanse mediagroepe teen Liebenberg en sy talle maatskappye (nege?) is hoogs verdag. Media24 verdien dermiljoene elke jaar aan advertensies vanaf die gevestigde diamantbedryf, soos vanaf die monopolistiese De Beers / Anglo-American. 'n Enkele volblad advertensie in net een streekskoerant soos Die Burger beloop meer as R 1 miljoen, en die diamantmaatskappy plaas talle sulke advertensies op een dag in alle groot koerante. Dieselfde koerante wat nou so giftig is vir weke al oor Liebenberg, wat nié by hulle adverteer nie. De Beers het al dekades 'n stink reputasie dat hulle enigeen sal squash wat hul moerse winsgrense en monopolie bedreig. Dis presies wat LL tans doen. Sou dit publiek bekend word hoe min De Beers uitbetaal, en hoeveel biljoene hulle aan wins in hul sakke steek, sal dit hul reputasie - en hoog tyd ook - 'n gevoelige knou gee. Liebenberg het te groot geraak, en sy besigheidsmodel hou 'n bedreiging vir hul houvas op die bedryf in.

4. Hoe is dit moontlik dat die owerhede nou skielik eers agterkom Liebenberg is kamma nie geregistreer nie? Die belastingowerhede sou dit mos al na die eerste miljoen se uitbetalings opgetel het, nie eers 530 miljoen Rand se uitbetalings oor die verloop van jare later nie. Liebenberg mag wees wat hy wil, maar hy is nie stupid nie, en hy het ervaring en braai gereeld saam met sy prokureur. Sekerlik sou hulle die papierwerk lankal uitgewerk het.
Vra julself af, is dit moontlik dat sekere inhalige skurke in die diamantbedryf Liebenberg probeer vernietig, en die media afdreig om saam te speel anders word honderdmiljoene Rande se advertensies onttrek?




Ek wil dit duidelik stel dat ek, die skrywer van hierdie blog post, nie 'n agent vir Liebenberg of enige van sy maatskappye is nie, of in enige vorm geaffilieer is met hom of enige van sy bedrywighede nie. Dis algemene kennis dat ek hom as immoreel beskou omdat hy Putin en die outokratiese Chinese regering ondersteun, en die skelm wat SA oor die afgrond (Zuma) gesleep het, finansier. Sy rassistiese uitsprake, sy ontkenning daarvan een dag net om die volgende dag weer 'n ander antwoord gereed te hê, en soortgelyke dubbelpratery - soos deur sy geloofsgefokte Engelsman-broer met die Joodse naam Yochanan uitgewys - is beslis nie betaamlik vir enige direkteur nie. Ek sal beslis nooit besigheid doen met so 'n sakeman nie.

En dan is hy nog woes in sy gebreinspoelde kop deur 'n pratende slang gepik ook. Sonder uitsondering sleep Liebenberg in elke liewe een van sy talle (dikwels hoogs vermaaklike!) videos vir ou Vuilbaard (die Christen god-ding) aan 'n krom balhaar die video in, en ons almal weet wat om te maak van 'n sakeman wat met die Bybel onder die arm loop, né.

Maar, my punt is, ons moet krities na alle kante kyk. Op papier maak die gottamiet Liebenberg se besigheidsmodel sin, dis 100% wettig, en dit bevat vele goeie elemente wat inderdaad die Afrikaner ekonomiese leverage kan gee en hom onmisbaar in Suid-Afrika as etniese groep kan maak. Dis ook bekend hoe maklik geloofsgefokte boerbare in die verlede al vir piramideskema geval het, en Liebenberg se skema word nou as 'n piramideskema bestempel deur die betrokke media en deur onkundige beleggers wat nog nie uitbetalings ontvang het nie. Mos maklik om Ponzi te skrou as jy nie jou geld met wins kry nie, selfs banke is al daarvan beskuldig.

In praktyk egter is daar te veel rooi vlae (soos die bewerings van aankope vanaf onwettige myners, die ondersteuning van Zuma, die gereelde hissy fits en selfs dreigemente van geweld vanaf die vermaaklike Liebenberg), om sake met hom te doen. Indien sy boekhouding meer deursigtig en hy meer moreel en minder gepla met godsnot was, dan ja, dan sou 'n belegging by hom sin gemaak het.

Moet egter net nie uit die oog verloor dat hy magtige vyande in die gevestigde diamantbedryf het wat hom nou in 'n nog swarter lig probeer stel nie. Of, in gewone taal, lesers en waarnemers van die sepie, kak albei kante uit, dring aan op geverifieerde bewyse van almal se stellings. Kyk agter die skerms, wat doen De Beers en ander groot mynmaatskappye, speel hulle 'n rol in die heksejag? Die SA koerante wat nou so teen hom te velde trek, wat is hul agenda werklik? Probeer agter die kap van die byl kom waarom hulle nou so hard jag maak op die vermaaklike gottamiet.

Die beriggewing wat ek tans aanlyn sien op SA media se webtuistes is kommerwekkend subjektief en geensins joernalistiek-n
eutraal nie. Iets is hoogs visserig, en nie net by die diamantsmous se nes nie.

"

Tot sover. Bogenoemde is wat ek gesê het in repliek. Hieronder is die plasing wat Pieter Duminy gedoen het, hoofsaaklik die kopiëring van 'n koerantartikel, waarop ek repliek gelewer het. Die subjektiewe toon van die twee verslaggewers behoort opvallend te wees. Ek plaas dit onveranderd.

"
Johan Eybers en Pieter Steyn Die diamantsmous Louis Liebenberg is nie geregistreer om die tienduisende karaat diamante waarmee hy kitsrykdom beloof, wettig te verkoop nie. Linda Nkhumishe, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Diamant-enedelmetaalreguleerder (SADPMR), sê nóg Liebenberg nóg enige van sy ondernemings waarvan hy ’n direkteur is, is by die reguleerder geregistreer om in die diamantbedryf werksaam te wees. Dit sluit sy maatskappye Forever Diamonds and Gold, Mafisa Mining, Tariomix en Forever Zircon in.

Dit is ’n strafregtelike oortreding om ongeslypte diamante te besit, daarin handel te dryf, of te besit sonder om geregistreer te wees. Oortredings is strafbaar met boetes van tot R250 000, tien jaar tronkstraf, of albei. Die hele sakemodel van Forever Diamonds is dat beleggers in “pakkies” ongeslypte diamante kan “belê” wat glo herverkoop word teen ’n wins van tot 200%.

Liebenberg het vroeër gereeld foto’s geplaas van die “pakkies” ongeslypte diamante waarin beleggers kon belê. Liebenberg het by navraag nie ontken dat hy of Forever Diamonds nie gemagtig is om ongeslypte diamante te besit of mee handel te dryf nie. Hy sê egter daar is nege maatskappye in die groep. “Twee van daardie maatskappye hou handels- en slyplisensies deur direkteure wat op ons kantoor en slyppersele geregistreer is. Dis reeds baie ou nuus. Ons werk ook saam met honderde handelaars wat gelisensieer is en ons hou noukeurig boek en register.”

Die Diamantwet is uiters streng. ’n Nie-lisensiehouer mag byvoorbeeld nie eens lisensiehouers bystaan tydens die besigtiging, aankoop en verkoop van ongeslypte diamante nie, behalwe by diamant- en uitvoersentrums. “(Liebenberg) is verder nie by die SADPMR gesertifiseer om ongeslypte diamante namens ’n gelisensieerde diamanthandelaar te koop of te verkoop nie.”
Ten spyte van dié wetlike beperkings, het Liebenberg die afgelope twee jaar honderde foto’s gepubliseer van ongeslypte diamante. ’n Voormalige belegger wat intussen aanvaar het hy het al sy geld verloor, het noukeurig in ’n Excel-dokument boek gehou van elke “pakkie” diamante wat te koop aangebied is vanaf Junie 2020 tot vroeg Januarie 2021. In dié periode is 426 “pakkies” – genommer van 102 tot 528 – te koop aangebied. “In 2020 het Liebenberg alle pakkies op WhatsApp aangebied. Hy het toe nog foto’s van die ‘diamante’, die hoeveelheid karaat, die winsmarge en die getal dae wat dit sou neem om te verkoop by elke ‘pakkie’ geplaas. Ek het al daardie inligting bygehou,” sê die belegger. Volgens dié dokument, wat Rapport onder oë gehad het, het Liebenberg 78 387,09 karaat se ongeslypte diamante aan sy beleggers, of “JV Vennote” soos hy na hulle verwys, aangebied.

 In dié tyd het beleggers volgens die gegewens R945 miljoen by Liebenberg belê en hy het belowe om meer as R2,1 miljard aan hulle uit te betaal. Hy het egter slegs sowat R544 miljoen uitbetaal. Twee jaar later wag beleggers nog op R1,3 miljard se uitbetalings vir dié sewe maande. Liebenberg sê hy kan nie antwoord op vrae oor die Excel-dokument nie omdat hy dit nie voor hom het nie en dit nie ’n openbare dokument is nie.
 
 Sedertdien het Liebenberg oorgeskakel van die WhatsApp-markplein na ’n aanlyn beursiestelsel waar sy beleggers “trade wallets” en “reward wallets” het. Liebenberg het uitbetalings gestaak en die beursies is gesluit. Hy het egter belowe om ná 15 Desember “ou pakkies” uit te betaal. 
 
Buiten Liebenberg se woord, is daar geen bewyse dat sulke “pakkies” diamante hoegenaamd bestaan nie. “Alle JV Vennote sal alle wins maak op hulle ooreenkomste met ons,” sê Liebenberg. “Rome is nie in ’n dag gebou nie. Hou jou neus net uit ons maatskappysake. Indien vennote ongelukkig is, is daar stappe wat hulle kan volg volgens ooreenkoms.” Liebenberg ontken ook dat enige beleggers geld verloor het, soos ál meer beleggers hardop sê. “Niemand het verloor nie,” sê Liebenberg.

 Liebenberg het verlede maand gespog dat hy beheer oor 144 000 hektaar myngrond in Namakwaland oorgeneem het. Hy sê hy het eers net een myn permit besit, maar sedertdien 23 ander permitte bekom. Hy beweer hy het kantore in Springbok, Johannesburg, Dubai en Sierra Leone. Volgens Nkhumishe het die reguleerder geen besonderhede oor Liebenberg se sakebedrywighede of die bestaan van dié kantore nie.
 
 ’n Diamanthandelaar wat ’n lid is van die SADPMR-raad, sê daar bestaan nie winste van tot 200% in die diamantbedryf nie. Hy dien die afgelope 40 jaar op verskeie plaaslike en internasionale organisasies se direksies wat omsien na diamanthandelaars en -slypers se belange. “Ons werk met klein winsmarges. Dit beloop tussen 3% en 4% wat ongeslypte diamante betref en tussen 5% en 20% vir geslypte diamante. Winste van 200% is ondenkbaar en beslis te goed om waar te wees.” 
 
Volgens hom het hy nog nooit van Liebenberg gehoor nie totdat hy onlangs in die nuus was oor die miljoene rande wat hy vir oudpres. Jacob Zuma se regskoste betaal het. “Liebenberg is glad nie bekend in die diamantbedryf nie en hy is beslis nie deel van die bedryf se binnekring nie.” Hy vind dit vreemd dat Liebenberg nie bekend is in die bedryf nie indien hy wel op groot skaal handel dryf in ongeslypte diamante.

 Liebenberg sê sy beloofde opbrengste is haalbaar. “Handelaars wat in diamantsentrums in Johannesburg sit en wag dat handelaars hulle besoek, maak nie ’n kwart van die wins van myners en ouens soos ek wat met delwers en myners werk en self myn nie. Dit weet almal in die bedryf. “Ek is van 2004 in die mynbedryf en hulle sit in glaskaste in Rosebank.

"

Nadat ek my plasing in die Facebook groep gemaak het, het Pieter Duminy daarop geantwoord met onderstaande, wat 'n geldige vraag vanaf heelwat mense deesdae is:

"Dis n goeie artikel.Ek het egter 1 vraag,hoekom het hy mense nodig om die pakkies te koop.Hy kan mos self die diamante verkoop sonder mense se geld.Dis dan klaar gemyn." 

Waarop ek 'n baie lang antwoord ter verduideliking getik het:

"
Hoekom het maatskappye geld nodig vanaf aandeelhouers, hoekom reik hulle aandeelsertifikate uit? Om geld te bekom vir uitbreidings, aankope, en dies meer. Hulle het nie self genoeg geld nie, so hulle bekom die geld vanaf beleggers. Dis dieselfde beginsel wat Liebenberg volg, met die verskil dat hy gewone 'klein' beleggers werf waarvan die meeste waarskynlik nog nooit aandele in enige maatskappy besit het nie. 

Om wetlike vereistes te oorkom - wettiglik - sê hy basies vir mense 'help my om hierdie 2 miljoen rand huis te koop, ek het nie genoeg myself nie, dan verkoop ons dit, en dan werk ons uit watter persentasie jy ingesit het, dan gee ek jou uit die wins dieselfde persentasie, plus jou aanvanklike belegging ook, terug.' Op papier is dit wettig, en kan dit inderdaad mense ryk maak, mits die 'huis' in my voorbeeld wel teen 'n wins verkoop.

Daarom dat Liebenberg sy saak teen die SA vervolgingsowerhede gewen het (wat tans op appèl is), en ook in die toekoms sal wen. Want SA se regstelsel bepaal dat slegs dieselfde feite wat tydens die eerste hofsaak aangebied is, weer oorweeg kan word.

Maar, Liebenberg se dade soos om in casino's te dobbel met beleggers se geld, sy uitgesproke steun aan onwettige myners, en dat hy nog nie party pakkies uitbetaal het nie, sal teen hom in ander hofsake - siviel, nie krimineel - tel.

 Daarom dat hy spog hy sy maatskappye bankrot kan verklaar, en net weer 'n volgende maatskappy kan opsit. Wat hy mos al gedoen het deur Wealth4U te laat likwideer.
Al hoe dit voorkom kan word dat hy dit weer doen - en dan het huidige beleggers reeds hul geld verloor - is as 'n hof sou bevind hy het as direkteur met opset krimineel opgetree, en dan kan hy verbied word om weer in 'n direksie te dien. Maar selfs dit kan wettiglik omseil word, of hy kan eenvoudig na 'n ander land padgee en daar 'n maatskappy opsit op dieselfde sakemodel.

Om kriminele bedoeling te bewys is moeiliker as om 'n siviele saak te wen teen hom. Ek het nog nie na sy kontrakte met sy beleggers gekyk nie, maar ek raai dat dit redelik waterdig sal wees.

My fokus van my kommentaar hier is op die SA media gerig wat hom nou skielik so met 'n brandende passie probeer verwoes. Dis hoogs verdag, daar moet iets daaragter steek. As die bekende sakemagnaat Christo Wiese gelde vanaf beleggers sou soek om die groot winkelgroep Shoprite uit te brei (weet nie of hy nog betrokke is daarby nie), 'n maatskappy wat nie in die hoogs-winsgewende diamantbedryf is nie, sal die media met dieselfde passie hom wat Wiese is probeer diskrediteer? 

Ons moet onthou dat elke mens geraamtes in die kas het, en dat as die media hul mes in het vir 'n teiken, hulle daardie geraamtes lewe sal gee. Liebenberg het baie, maar wie is die donker karakters agter Operasie Lasurus? 
"

Naskrif: Ek plaas hierdie skrywes slegs hier om te voorkom dat dit verlore sou gaan as FB dalk vir een of ander absurde rede daardie groep sou sluit, en sodoende my tyd wat ek aan die skryf spandeer het sou vernietig. Ek verwag nie juis lesers op hierdie lang artikel nie, dis meer vir argiefdoeleindes. Mark Fuckerface van FB gaan my 'werk' nie weer vernietig deur groepe arbitrêr te sluit net omdat ander mense daar goed gesê het wat teen sy idee van vryheid van spraak gaan nie, en dan verdwyn my skrywes en kommentare daarmee saam nie. Ek dra deesdae toenemende meer van my skrywes daar af na sites buite Zuckerberg se beklemmende ekosisteem. 


No comments:

Post a Comment


Get Paid to Hang Out on Social Media, Travel the World!