Be Notified of New Posts via Smoke Signals or Something

Friday, October 30, 2020

Mavis vannie Lavis innie Malhuis


Op Facebook is 'n 'Kaapse Kleurlingvrou' (ek het nie 'n fokken clue of dit polities-korrek is nie) wat skerp van tong, en moersnaaks is. Dink Patricia de Lille, net tien keer beter. As sy in jul parlement was het Malema homself aan Floyd Shivambu se snot opgehang. 

Soek haar op FB onder die naam 'Mavis Vannie Lavis', as jy hou van eg-Kaapse vermaak op jou timeline. 

  Elk geval, kom ek op 'n plasing van haar af wat ek sonder haar toestemming net so gaan kopieër en hier plak, sodat as FB die dag haar account verban, van haar skerp skryfstyl darem behoue sal bly op die internet wat klaar so min Afrikaans het. Sy het darem wel haar plasing in die publieke domein geplaas op 'n platform wat haar nie betaal nie, so ek reken darem nie sy sal omgee vir ekstra publisiteit nie. 

  Sy bring glo volgende jaar 'n boek uit, dis absoluut 'n vereiste dat al sewe my lesers hul spaarvarkies begin gereedkry daarvoor. As mens na haar plasings op FB kyk en hoe sy dinge beskryf gaan haar boek een van daardie wees wat nie net gekoop gaan word nie, maar beslis gelees gaan word ook. Capies weet mos hoe om 'n ding te beskryf soos geen niemand anders in die wêreld nie. 


So hier is Mavis van Bishop Lavis se plasing:

"
  Vier jaar terug het my lewe onherroeplik verander. Dit was diep in die hartjie van winter toe ek my eerste anxiety attack kry, vertigo het ingeskop en ek kon voel hoe my hart uit my borskas klop. By Noodgevalle het dokters op ‘n wasbleek Mavissie afgekom, wie se oë in haar kop gesit het. Paulo het daardie aand verwese (soos ek hoor) gelyk. Ek moes vir ‘n maand in ‘n depressive kliniek deurbring, terwyl Paulo tuis na my teddiebere en my nuwe AMC Classic potte moes kyk.

  Die eerste paar dae het ek met die lieflikste mense kennis gemaak. Ek het altyd gedink mense wat in inrigtings sit, was van nature mal. Maar, namate ons mekaar leer ken het, het ek besef: dis die mees sagmoedigste mense wat ‘n mens jouself kon indink wat hier is.

  In die gange van die kliniek was alles klinies en die nurses was almal professioneel en flink. Hoewel ek meer wou slaap, het die boeretannies my altyd kom wakker maak om met hulle te gesels. En so, het ek besef: Depressie en Angst vra nie kleur, gender of ouderdom nie. En in die eerste week was ek die hoofmeisie van die inrigting.

  In die malhuis het ons onder toesig geverf, gemosaik en geskilder. En daarna het ek almal se hare gekam, en Cape Flats stories vertel. Die dokters het gou besef dat ek ‘n baie therapeutic Diva is, wat met hulle besigheid fok omdat my mede-pasiënte om my gezoem het, en nie meer kunsvlyt en skilderklasse toe gegaan het nie.

   In die inrigting het ek ‘n vrou aangemoedig om haar alkoholis-man meer te moer. Ek het haar vertel dat die Jirre baie disappointed in haar gaan wees as sy meer houe moet neem. “Maar” het sy teruggeantwoord “my man sê ek is mal”.
“Maar jy is” het ek haar gepaai “en mal mense gaan nooit tronk toe nie, omdat hulle nie verantwoordelikheid kan aanvaar vir hul dade nie. As jou man vir jou slaan, moer jy hom terug met elkeen van jou kitchen utensils” het ek haar getroos terwyl ek haar grysblonde hare soos Anneline Kriel s’n kam.

  In die hospitaal het so baie dinge gebeur wat julle in my boek volgende jaar sal kan lees. Maar die mees belangrikste les wat ek geleer het, is om mense wat onbeskof is te ignoreer en daarna hulle gatte sleg te maak in hulle communities. En jy praat uit. Dom mense hou secrets. Sedert vier jaar terug vertel ek almal se secrets, want daar is nie ‘n manier dat ek as ‘n hostile witness getreat sou word in die lewe nie.

  Terwyl ek so sit en tik, bel Paulo se uncle. Hy is uitgesit uit ‘n shelter omdat sy diere die shelter volgekak het. Hoewel die onbeskofte uncle graag by ons wil kom bly, het ek dit duidelik gemaak dat Paulo sal moet kies; want daar is nie ‘n manier dat dié Cape Flats Aspoestertjie weer soos vyf jaar terug, ‘n papagaai moet gaan soek wat elke dag haar poes gevloek het nie.
"




No comments:

Post a Comment


Get Paid to Hang Out on Social Media, Travel the World!